Jy sal vergewe word as jy die naam Georic Lomas hoor en vra “Wie’s dit?” Maar glo ons maar, binnekort gaan jy heel uit voel as jy nie kan saampraat oor hierdie nuwe stem op die Afrikaanse musiektoneel nie.

Georic Lomas is die eerste keer raakgesien toe hy die rol van Morne in die musiekprent “As Jy Sing” vertolk het. Sedertdien het hy stil-stil begin werk aan sy debuutalbum, “Silhouette,” en tans is hy besig met afrondingswerk voor die vrystellingsdatum bekendgemaak word. Sy musiek word deur mense wat weet beskryf as popmusiek op sy beste en die liedjies wat op die album gaan verskyn gaan ‘n toonvenster wees vir Georic se fenomenale talent.

Georic se musiek sal aanklank vind by ‘n ieder en elk, maar dis almal wat jonk van hart is waarop die eindproduk gemik sal wees. En aangesien September die maand van vernuwing is, is dit ook dan heel gepas dat sy eerste liedjie vanaf die album, “Bazaruto,” nog voor die einde van die maand soos ‘n vars briesie deur Afrikaanse musiek gaan waai.

Vir meer inligting oor Georic, volg hom op Instagram by ‘GeoricLomas‘.

Leave Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

clear formSubmit