Enige sanger droom daarvan om ‘n suksesvolle sangloopbaan te bou. Jo Black is die uitsondering. Want die man het meer as genoeg ervaring in bou. Vir 8 jaar lank was hy in konstruksie – paaie, brûe, skole en huise. Toe begin hy sy eie inisiatief met die naam “Be That Guy” wat kinders regoor die land help bou het aan ‘n positiewe ingesteldheid. Nou begin hy bou aan sy sangloopbaan.

Die Pretoria-Noord boorling se eerste liedjie met die titel “Skepe” word op 25 November op iTunes en Apple Music bekendgestel. Boonop lê hy sommer ook ‘n sterk fondasie deur die video op dieselfde dag op Youtube vry te stel. “Skepe” is deur Jo homself saam met Johan Vorster en Christoph Kotzé geskryf en is in sy eie woorde “…’n lied wat ek hoop mense sal inspireer om aan te gaan, op te staan en ‘n verskil te gaan maak. Dit maak nie saak waar jy in jou lewe is nie, dis nooit te laat om jou kop op te tel en vorentoe te gaan nie. Dis ‘n lied wat met jou siel moet praat meer as wat dit vir jou ore bedoel is. Hopelik kry elkeen ‘n stukkie hoop hieruit.”

“Skepe” is ook net die eerste tree van baie wat Jo gaan gee in die vermaaklikheidswêreld. Hy is reeds besig met die afrondingswerk aan sy eerste vollengte album saam met die gesoute Inhoud Huis span en die finale produk beloof om vol inspirasie en lekker ligte luistermusiek te wees.

As jy intussen meer oor die belowende nuwe stem wil uitvind, bly op hoogte deur hom op Instagram te volg: joblack8 of Twitter: @JoBlack_BTG.

Leave Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

clear formSubmit