Die naam is eintlik geen vreemdeling vir Afrikaanse musiek nie. Appel, Christoph Kotzé is een van Suid-Afrika se besigste kontemporêre Afrikaanse liedjieskrywers met kunstenaars soos Theuns Jordaan, Karlien van Jaarsveld, EDEN, Laurika Rauch, Bok Van Blerk, Lianie May en Dewald Wasserfall wat al treffers gehad het met liedjies uit sy pen. Maar nou betree hy die kollig onder die ander naam wat kunstenaars hom al lank voor ken: Appel.
As jy al by vertonings by feeste soos Aardklop, Innibos en die Rittelfees bygewoon het, het jy Appel dalk al sien optree. En na sy Ghoema-toekenning vir Liedjie van die Jaar vir EDEN se “Superhero” en die titelsnit treffer uit die rolprent “Somer Son”, kan liefhebbers van Afrikaanse musiek hul nou gereed maak vir “Lei my na die water,” ‘n CD gevul met 17 liedjes insluitend die titelsnit. Uiteindelik, na bewonderaars al vir jare probeer om hom sover te kry om sy eie album vry te stel, het hy nou gehoor gegee.
Die eerste enkelsnit “Lei my na die water” het al op verskeie radiostasies die nommer een posisie beklee, en het ongelooflike aandag uitgelok.
Oor die titelsnit het Appel die volgende te sê: Ek het die inspirasie gekry vir die lied toe ek vir drie maande in die hospitaal gelê het en my vrou oggend in en aand uit my bygestaan het, aan my sy was toe ek weer tree vir tree leer loop het, woord vir woord weer leer praat het. Sy het letterlik my sielkundige wonde gebalsem. Ek het daar die krag van ware liefde begryp en hoe ons vir mekaar baie meer kan beteken as enige aardse dinge. Die waarheid is dat in vandag se tyd en eeu is ons baie gedrewe op onsself, die krag van die individu, maar eintlik hoort dit nie so nie. Ons kort mekaar en die krag van liefde word verskriklik onderskat. Ek hoop terdeë dat hierdie lied mense se harte kan oopmaak en laat besef dat ‘n helpende hand weer die siel se vure kan laat brand.”
Appel was nog nooit geken om dinge op klein skaal te doen nie, en daarmee is dit ook geen verrassing dat hy sy solo loopbaan afskop met ‘n trilogie van musiekvideos. Hierdie drie videos, vorm saam ‘n kort film, wat aaneenlopend kykers op die punte van hulle stoele sal hou. Die trilogie simboliseer die stryd wat Appel teen die dood oorwin het drie jaar terug, en dit belowe om die hartsnare te ruk. Die videos vir die liedjies “Lei my na die water,” “Kom en lê my neer” en die ode aan sy vrou “Vroumens” sal deur die loop van Mei en Junie vrygestel word. Daar kan groot verrassings verwag word in hierdie tydperk. Die videos was verfilm deur die bekroonde Gerhard Van Rooyen.
Benewens “Lei my na die water,” is daar ook ‘n duet saam met Bok van Blerk met die titel “Lemoene” en ‘n paar Engelse snitte, op die album. Appel sien homself as ‘n storieverteller en dit skemer beslis deur in sy musiek met lirieke wat handel oor die liefde en die impak daarvan op mens se lewe. Die liedjies het almal diepte, maar met ‘n kommersiële aanslag wat steeds die hartsnare sal roer.
As jy dus hou van volwasse kontemporêre popmusiek, wees op die uitkyk vir die album wat nou landswyd op die rakke beskikbaar is. Die album is ook op Apple Music en iTunes beskikbaar. Kontak Inhouse Agency (aida@ihagency.co.za) as jy Appel wil bespreek vir ‘n optrede met ‘n persoonlike en intieme ervaring.
Om op hoogte te bly van Appel se avontuur, en optredes, volg hom gerus op sy Facebook blad “Appel,” of Twitter @Appelmusiek of Instagram onder “Appelmusiek”.
PS – ‘n Appel ‘n dag laat die hart weer lag.
Kry dit hier:
inAfrikaans.lnk.to/AppelLMNDWFP

Leave Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

clear formSubmit